’n Droom vir Suid-Afrika

Suid-Afrika is ʼn stimulerende, polsende krag: ʼn Afrikason wat helder skyn deur sy moderne tegnologie, sterk ekonomie, stabiele politieke bestel en sy kragtige infrastruktuur. Ons is ʼn mededingende speler in die wêreldekonomie en ken die reëls van die spel. By ons werk dinge. Ons suksesse vind in ons buurlande weerklank en dien as katalisator vir prestasie in ander ontwikkelende lande.

Die werksomgewing in ons land is ons trots. Werksgeleenthede is volop en hulpbronne word volhoubaar benut. Ons word erken vir ons ononderhandelbare werketos en werkgewers glo aan die volle ontwikkeling van ons mense se bevoegdhede. Maar in die kleine is elkeen, van jonk tot oud, aktief besig om hulle volle potensiaal – en dié van ander – te ontwikkel. Ons is ten volle op dreef.

Net soos hierdie pragtige land gekenmerk word deur die verskeidenheid van sy landskappe, vorm Suid-Afrika ʼn lappieskombers van kulture en groepe. Ons skep ruimte vir mekaar en respekteer menswaardigheid, regverdigheid, gelykheid en uniekheid. Daarom vind elkeen inspirasie in wie en wat hy is. Ons gee dus graag erkenning aan elkeen se taal en kultuur, en beskou die verskeidenheid juis as een van ons grootste bates.

Ons gedeelde geskiedenis, ons samebindende patriotisme en ons sterk morele anker, dien as ʼn raamwerk vir samewerking. Dít, meer as enigiets anders, stel ons in staat om saam te staan en dienste te lewer waar dit die nodigste is.

Die vonk van ons sukses lê ongetwyfeld in ons mense, wat in hierdie ondersteunende en veilige omgewing hulle volle potensiaal kan bereik. Dit dra daartoe by dat elkeen daarop ingestel is om ʼn positiewe verskil in sy of haar omgewing te maak: gesinne, die kerk, nywerhede en die staat werk saam om hierdie omgewing in stand te hou. Ons kinders droom drome oor die toekoms en ons volwassenes gryp met selfvertroue nuwe uitdagings aan. Elkeen voel versterk en bemoedig om met entoesiasme ʼn bousteen te lê in die suksesse van ons pragtige land.

In hierdie mooi land met sy aangrypende verlede en sy unieke samestelling van landskappe, gemeenskappe en mense, is ons rustig en voel ons veilig en dankbaar en voel ons dikwels of die enigste beperking nét die fisieke grense van Suid-Afrika is.